'n Storie geskryf deur Carina Steenekamp oor ‘n oom wie se Spotify op die cheerleader se stem vasgehaak het.
"Meneer van Aard is ‘n man soos vele ander
‘n Mens wat nie baie daarvan hou om te verander.
Want of jy nou mens, mier, of voël is of die klas se vis:
Die lewe is, ja hy is, die lewe is soos hy is.
En daarom sug hy en hy kreun.
Die idee van geluk? Nee wat! Dis net ‘n leuen.
Want vir Meneer van Aard is selfs die mooiste plekke vaal.
Hy kyk met sy grootmensoog—kwaai en kaal.
Oral waar hy kyk, vind hy fout:
Die wind waai, dit reën, dis te warm of te koud.
“Maar, nee, ek kla nie,” sê hy sonder lus.
Want die lewe is, ja hy is, die lewe is soos hy is.
En so sit hy die een aand op sy stoep
terwyl hy die donker naguil hoor roep
maar die geluid gee vir hom geen genot
“Want kyk! Hmf. Die wolke maak die sterre toe! Ja. Dis my lot”.
Maar soos die naguil vlieg oor sy kop
verskyn daar skielik ‘n seuntjie langs hom—so groot soos ‘n pop.
“Teken vir my ‘n leer,” sê hy, “dan druk ons sy pote in die see.
Ek sal daarop klim en al die wolke met ‘n hark wegvee!”
Meneer van Aard staar verstom
sy grootmensoë nou skielik dom.
Die seuntjie knik vriendelik. “Ek weet jy kan teken, Oom. Moenie skaam wees nie.”
Meneer van Aard hakkel: “Maar dis mos nie hoe die lewe, ... nee, dit kan nie, dit kan tog nie die waarheid wees nie?”
Maar hy is nogal beïndruk met dié klein man
en daarom maak hy vinnig ‘n plan.
Hy gaan haal papier, ‘n pen en verf
En teken ‘n leer—uit pragtige hout gekerf.
En daar klim die seuntjie op tot bo
Meneer van Aard kan sy grootmensoë skaars glo.
Soos die seuntjie opklim, kyk Meneer van Aard van onder
En iets diep binne hom begin te wonder.
Hy dink aan die maanlig wat plek-plek deur die wolke skyn
en die seuntjie wat versigtig die leer moet op—met behulp van sy ogies fyn.
“Dalk,” dink hy, “sien die seuntjie meer as ek”.
“Sowaar!” kom die stemmetjie van bo, skoon opgewek.
“Kyk net die mooie, diepe blou
Soos die see in watte toegevou!”
Meneer van Aard vryf sy oë en knip, knip, knip
maar toe hy dit weer oopmaak, het die seuntjie en al die wolke daarby in die donker lug ingeglip.
Kan dit wees? Was dit maar net sy moeë grootmensoë wat gly?
Van die klein seuntjie se kuier is daar net ‘n donker naguilveer wat op die vloer oorbly.
Met sy pen en kwas in die hand staar hy na die ope lug.
Hy staar na die sterre en gee opnuut weer ‘n sug.
“Die lewe is, ja hy is, die lewe...” maar o, gewis!
Meneer van Aard besef hy het die gevoel van die kwas in sy hand só gemis.
En meteens is hy lus vir kleur en hy is lus vir speel
Hy is lus om te lag en om hom te verbeel.
En op daardie oomblik begin Meneer van Aard verander:
‘n nuuskierigheid in hom maak hom bietjie anders as die ander.
Hy neem ‘n papier en met die naguilveer gee hy dit ‘n vee.
Hy teken donker watterige wolke wat ruik na die see.
En hy besef—en hy vertel dit later vir homself weer en weer
As jy fyn leer kyk, is die lewe soveel meer."
Wonderlik!